Huldeblyk: Rus in vrede, ‘Ouma’ Joyce Venter

"Ouma" Joyce Venter is 12 Julie 2017 oorlede. "Ek dink op die oggend van 12 Julie 2017 is daar pannekoek geëet in die hemel en het Oupa Jan en Ouma Joyce heel voor gedans op die boeremusiek wat gespeel het," skryf Wilana Claassen.

Wilana Claassen skryf: “Maandae was altyd my Ouma Joyce dag.”

“Ek het geen werk geskeduleer vir daardie dag nie en het by haar gebly tot sy al haar inkopies en sake afgehandel het. Ons het elke Maandag vir ontbyt by die Wimpy gaan eet of koek en tee iewers anders. Gewoonlik was dit kaaskoek. Nooit het ek gedink dat die Maandag so gou sou kom, wat ek vir my Engelse boere tannie totsiens moes sê nie.

“Waar het ons vriendskap begin? Ek onthou dat ons gereeld eiers geskenk het vir Oupa Jan in die jare 90 toe hulle pannekoek vir die skole se rugbyweke gebak het. Ons het egter net van mekaar geweet en was nog nie ware vriende nie. Dit het egter gou verander toe Pieter gebore is en die babatjie het dadelik tannie Joyce se aandag getrek. Nodeloos om te sê, van daaraf was ons onafskeidbaar en het ons vriendskap net gegroei. Van daar dat ek van Oupa Jan en Ouma Joyce praat, want my kinders het hulle so genoem.

Saam met Oupa Jan en Ouma Joyce was ons die land vol. Van Johannesburg, Pretoria, Durban en tot in Kaapstad was ons saam met vakansie. ‘n Vis en chips het hulle tevrede gehou, met ‘n lekker cappuccino daarby. Hulle ouderdom was nooit ‘n twispunt nie en hulle het alles saam met ons gedoen. Ons kon Ouma Joyce net nie op Tafelberg kry nie, maar Oupa Jan was darem braaf genoeg!

“Ouma Joyce was altyd die stil een wat die praatwerk aan Oupa Jan oorgelaat het. Dit het egter in 2013 verander toe Oupa Jan oorlede is en sy genoodsaak was om haar eie sake te behartig. Daar het sy nog dieper in my hart gekruip.

“Omdat Ouma Joyce nie motor kon bestuur nie, het ek haar chauffeur geword. Elke week is ons PnP toe om die gewone kruideniersware vir die week te koop. Sy was baie lief vir koue vleis en slaai. Jy moes ook elke dag ‘n glas melk drink en getrou elke oggend jou pap vir ontbyt eet. Daar was ook altyd ‘n pak chips, lekkergoed, gewoonlik peppermente, en ‘n bottel ice tea ingepak. As ons die Vrouekeur en Huisgenoot gekry het, was ons amper klaar. Ons moes ook altyd handevashou, want “dis nie mooi as oumense val nie”.

“Ons het baie gelag en elke week het ek die nuus opgevang van wat in haar kinders se lewens aangaan, asook by die Venters en by Nicolene Vermaak, alias Skinny, soos Ouma Joyce haar genoem het. Sy het nooit mense op hulle name genoem nie, maar het van hom en haar gepraat, of dié een en daai een, en tussen in moes ek uitwerk van wie sy praat. Ook moes al die nuwe fotos en videos met groot geesdrif op my selfoon gekyk word en moes ek vertel waarmee ons besig is op die plaas. Sy het ook altyd die nuusgebeure met my bespreek en my partykeer laat skaterlag oor dit wat sy eintlik gedink het, gaan aan.

“Sy het ‘n spesiale liefde vir kinders gehad en al die kinders wat haar pad gekruis het, het ‘n spesiale plekkie in haar hart gehad. Sy kon enige baba vat en by haar sou hulle gelukkig en tevrede sit. So is daar vir weeshuise en kankerhospitale mussies, kousies, kombersies en wie weet wat nog alles, gebrei. Al haar spesiale vriendinne besit beslis ‘n paar van haar bedsokkies wat met liefde gebrei is. Sy het tot op die einde nog haar breiwerkies by haar gehad.

“Ouma Joyce het vier kinders in die lewe gebring en het met heimwee oor hulle almal gepraat. Sy het tot met haar dood, gereeld gepraat oor haar seun wat sy so jonk aan die dood moes afstaan.Vir Willie en Jannie was sy baie lief en ook haar kleinkinders het ‘n spesiale plekkie in haar hart gehad.

“Dankie vir elkeen wat haar pad gekruis en ‘n verskil in haar lewe gemaak het. Dankie vir elkeen wat vir haar ietsie gaan koop het in die dorp of vir haar iets te ete gebring het. Dankie vir die vriendinne wat selfs help water aanry het, toe ons dorp ‘n krisis gehad het.

“Ek dink op die oggend van 12 Julie 2017 is daar pannekoek geëet in die hemel en het Oupa Jan en Ouma Joyce heel voor gedans op die boeremusiek wat gespeel het.

“Vandag groet ek Ouma Joyce met dieselfde woorde waarmee sy my gereeld gegroet het, wanneer ek ry: “Ek is baie lief vir jou”.”

  AUTHOR
Wilana Claassen

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
A man who touched so many lives